![]() |
||||
Op 13 Junie 1913 ontstaan die biblioteek onder die naam van Hollandsche Leeskamer in Kaapstad danksy 'n subsidie van die ANV in Nederland. Dit word gehuisves in die Afrikaanse Koffiehuis in die Groote-Kerkgebou in Kaapstad.
Die ANV in Nederland skenk die eerste versameling boeke. Die ANV dra ook verdere skenkkings en subsidies by.
In 1918 kry die Leeskamer die eerste gereelde finansiële ondersteuning van die Kaapse Provinsiale Administrasie. Die naam verander na Openbare Hollandsch-Afrikaanse Boekerij en Leeskamer ANV.
Op 29 Augustus 1934 verhuis die biblioteek na Leliestraat 6 in Kaapstad en dit bly daar vir 32 jaar. In 1965 word die gebou afgebreek en die boeke en ander materiaal word tydelik gestoor.
Een jaar later, in 1966, trek die biblioteek na die Waalburggebouw in Kaapstad. Hier bly dit vir die volgende 16 jaar.
Die eerste buitediens ontstaan in 1974 in Parow, en later verskuif dit na Bellville. Daarna kom Nuweland in 1976, Somerset-Wes in 1980, Milnerton in 1982, Franschoek in 1986 en Stellenbosch in 1990..
Die huurkontrak vir die Waalburggebou verval in 1982 en alles word weer tydelik gestoor. 'n Handjievol medewerkers het 'n jaar lank die buitedienste aan die gang gehou. 'n Vyfde, tydelike buitediens open in die gebou van die 'Friends of Italy Association'.
Dieselfde jaar begin die Van Ewijck Stigting die biblioteek se huurgeld subsidieer.In 1983 verskuif die biblioteek na die Satbel Gebou in Groenpunt, Kaapstad. Op 27 April 1984 open die biblioteek weer vir die publiek.
Vanaf 1991 huur die biblioteek 'n groter ruimte in die Satbel Gebou danksy die finansiële steun van die Willem de Zwijgerstichting. Hierdie stigting besluit in 1995, in oorleg met die ANV-Kaapstad, om 'n pand aan te koop en hierdie gebou uit te brei tot 'n volwaardig Nederlands-Vlaams-Afrikaanse kultuursentrum.
Sedert die middel van Augustus 1997 funksioneer die biblioteek uit 'n nuwe gebou in Pinelands, wat die naam Huis der Nederlanden kry.
| Laas bygewerk op 2011-01-26 | © Kopiereg Nederlandse
Biblioteek Kaapstad 2007-2011 |